Kerkkantoor: 015 291 2814    

Agapé Geskiedenis

Agapé Geskiedenis

Corné en Pat arriveer met hul dogters, Tania, Liesl en Vicki, gedurende Januarie 1987. Die trek vanaf Pretoria is gabasseer op ‘n versoek van ‘n klein groepie ywerige dissipels van Jesus. Die doel was dat Corné as leraar sou optree vir ‘n klein huisgemeentetjie wat in ‘n motorhuis in Burgerstraat 65 ontmoet.

Corné en Pat was pastore by Hatfield Christen Gemeente. In hul soeke na God se wil en die ontdekking van hul eie visie was dit moontlik om die tog vanuit een van die grootste gemeentes na so ‘n klein groepie te maak sonder om te voel dat iets verlore gaan!

Die bestaande broederskap het reeds ‘n sterk leierskap-basis uitgedruk en Corné en Pat moes slegs die visie-pas aangee. Gou het dit geblyk dat die bedieningsfilosofie soms té uniek en radikaal was om “skares” te trek. Die leierskap het egter gepoog om getrou te bly aan hul interpretasie van die Koninkryk. God het saamgewerk en tonne genade uitgegiet op wagtende en begerige broeders.

Vanaf die begin van die gemeente was dit duidelik dat manne-en-vrouekampe ‘n instrument sou wees vir geestelike vernuwing en evangelisasie. Persoonlike dissipelskap was altyd ‘n realiteit. Woorde soos: integriteit, rekenpligtigheid (rentmeesterskap) lojaliteit en diensbaarheid het gou deel van die daaglikse woordeskat gevorm.

Gedurende Januarie 1991 het die gemeente op grondwetlike wyse offisiëel ‘n nuwe naam aangeneem en is die eerste amptelike leierskap, grondwetlik ingeseën. Spoedig het die gemeente oor visie begin praat en in die beginsel van selgroepe as beide herderskap en dissipelskapinstrument aanvaar. Vir ‘n periode van 18 maande is daar baie aandag gegee aan die oprigting van selleiers.

Spoedig het die gemeente ‘n gesonde groei begin toon. Daar is probleme ondervind met akkommodasie vir Sondag-dienste. Eers moet ons plek vind vir 100 mense, toe vir 200 en later vir 400. In 1994 is daar besluit om ons eie gebou op te rig. Met R10 000 in die bank het die leierskap op die water uitgestap en binne 30 dae is daar eers R100 000 deur ‘n weduwee geskenk en later is daar meer as R200 000 deur die gemeente geskenk. ‘n Veeldoelige gebou is in 1995 voltooi en heet “Die Pottebakker se Huis”. In hierdie gebou word ‘n dagskool vir 100 leerlinge aangebied, eredienste gehou en vele woordskole en aandlesings aangebied.

Ons begeerte is dat die Pottebakker elke persoon wat hierdie gebou betree sal aanraak en in Sy beeld hervorm!

Ondertussen het ons ook begin met ‘n Engelse Gemeente op dieselfde kampus. Hierdie gemeente word gelei deur Pieter en Lianza Pretorius met ‘n formidabele span rondom hulle.