Kerkkantoor: 015 291 2814    

Wat glo ons?

Wat glo ons?

‘n Kort oorsig van ons gemeente: ons is ‘n jong, dinamiese gemeente. Dit beteken dat ons nog ‘n ver pad het om te gaan voordat ons alles sal wees waarvoor Christus vir ons gesterf het. Ons is egter begerig om te leer, te verander en wil graag toelaat dat die Pottebakker ons vorm net soos Hy wil! Ons glo dat ons tans reeds ‘n verskil maak, hier in Polokwane en ook in ons land…

Geskiedenis
Visie
Leierskap
Herderskap
Dissipelskap

ONS GLO IN:

  • Die ewige Drie-Enige God; Vader, Seun en Heilige Gees
  • Jesus Christus as waarlik God en waarlik mens. Hy het aan die kruis gesterf vir die sonde van die mensdom en het deur die stort van Sy bloed ‘n ewige versoening tussen God en mens bewerk. Hierdie versoening is meer as net die verwydering van ons sondeskuld; dit sluit ook die moontlikheid in van die wedergeboorte van die individu wat sy geloof in die volbragte werk van Jesus op Golgotha plaas.
  • Die absolute gesag van die Ou en Nuwe Testament as die geìnspireerde Woord van God wat die grondslag vorm vir die geloof en gebruike van die gemeente.
  • Die waterdoop van die gelowige. Die doop red nie van sonde nie, maar dien as simboliese identifikasie met die dood en opstanding van Jesus Christus. Die doop word gesien as die tweede komponent van egte bekering tot God en is ‘n stap van gehoorsaamheid.
  • Die doop met die Heilige Gees as ‘n ondervinding na en apart van wedergeboorte. Hierdie ondervinding is ‘n “sigbare” en “hoorbare” belewenis in die gelowige se lewe.
  • Dat elke gelowige gawes en talente het waarmee hy as bousteen in die lokale gemeente tot bevordering van die gemeente se missie kan werk.
  • Die be-oefening van die gawes van die Heilige Gees in die eredienste en gemeentevergaderings.
  • Die restorasie van die kerk en die her-oprigting van die vyfvoudige bediening – Apostel, Profeet, Evangelis, Herder en Leraar.
  • Die totale eenheid tussen ware Christen-gemeentes. Ons sal ons beywer vir samewerking op alle terreine om die werklikheid van die koninkryk van Jesus Christus ten volle uit te druk.
  • Die fisiese wederkoms van Jesus Christus as die blye hoop van die kerk. Die wederopstanding tot die lewe, van alle ware gelowiges.

ONS KERNWAARHEDE:

Wat vir ons belangrik is:

Alhoewel elke individu ‘n persoonlike visie het, is dit ons begeerte om saam te span en onsself ondergeskik te plaas aan ‘n gemeenskaplike visie vir die gemeente. Ons kan ons waardes onder nege hoofde saamvat:

Ons glo dat gesalfde lering ‘n katalisator vorm vir die verandering van individue se lewens asook die gemeente. Ons lering is dus gemik om ‘n definitiewe reaksie en verandering uit te lok.
Rom 12:7; 2 Tim 3:16; Jak 1:23-25

Ons glo dat verloregaande mense belangrik is vir God en daarom ook belangrik vir die gemeente moet wees. Ons is dus betrokke by evangelisasie op all terreine.
Mrk 16:16; Matt 28:19,20; Luk 15:1; Joh 4

Ons glo dat God Sy kreatiwiteit in individue stort deur die genade werking van die Heilige Gees. Ons poog dus om aan mense geleentheid te bied om deel te hê aan aktiwiteite waar diè uitgedruk kan word.
Drama, Musiek, Leierskap ens. (Rom 12;3-8; Ef 4”11; 1 Kor 12:7)

Ons glo dat Christus se volgelinge ‘n radikale egtheid in ‘n kunsmatige wêreld sal uitdruk. Persoonlike integriteit, karakter en heelheid is dus belangrik en word in ons bedieningsprogram aangestip.
Jak 1:21; 1 Pet 2:1-5; Ef 4:25-26

Ons glo dat die uitstaande kenmerk van die manifestasie van die Koninkryk van God praktiese liefde is. Egte verhoudinge, praktiese diensbaarheid is hoog op ons agenda.
1 Kor 13; Mat 20:25; Ps 133:1ff; Joh 13:34,35

Ons glo dat mense se lewens die kragtigste verander in klein groepies.
Beginsels soos deursigtigheid, openhartigheid, rekenpligtigheid (verantwoordbaarheid) word ernstig beklemtoon en uitgeleef.
Luk 6:12,13; Han 2:42-47; Spr 27:17

Ons glo dat die gemeente deur mense gelei behoort te word deur mense met die gawe van leierskap. Ons wil gedurig besig wees met leierskap ontdekking, ontginning en onplooing.
Neh 1&2; Rom 12:8

Ons glo dat dit normal is vir gelowiges om voluit vir Christus te leef.
1 Kon 11:4; Fil 2:1-11; 2 Kor 8:7